VIR DIE JEUG

Markus 10:14: “Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.”

By NG Suidkus beskou ons nie die kinders as die Kerk van die toekoms nie, maar die Kerk van vandag. Soos wat Jesus die kinders innooi na Hom toe, is kinders van alle ouderdomme (ook dié wat al 30, 50 of 80 is) ’n integrale deel van ons familie. Dit is belangrik dat jy as kind nie net deel voel van “die Jeugbediening” of “die kleingroep” nie, maar dat jy deel voel van die gemeente. Daarom is die kinders deel van ons eredienste en word hulle nie van hul ouers geskei nie. Ons het ook na die erediens kleingroepe waar die kinders verder hulle geloof kan vorm.

Ons is diep bewus daarvan dat die primêre plek waar geloof gevorm word, die huisgesin is. Dit is ’n duidelike opdrag wat ons in Deuteronomium 6:7 kry: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” Daarom fokus ons daarop om gesonde huisgesinne te vestig deur gesonde geloofsgewoontes by ouers, kinders, tieners en jong volwassenes te kweek. Ons nooi ook elkeen uit om betrokke te raak en te deel in hierdie reis.

Ons doen dit op die volgende maniere:

Geloofsvorming kleingroepe (tydens skoolkwartaal):

Tydens oggenddiens (09:00-10:00)

Voorskool:

Ons het ’n betroubare span mammas wat met die voorskool kinders werk tydens die oggend erediens. Daar is ook ’n moederskamer waar gesinne met jong kinders saam kan deelneem aan die erediens sonder om bekommerd te wees dat hul kinders raas (die kinders is altyd welkom in die kerk, maar ons wil graag vir ouers die ruimte bied vir gemoedsrus).

Na die Oggenddiens (10:00-10:45)

Gr 1-3 | Gr4-6 | Gr7-9 | Belydenisklas

Daar is vier groepe vir ons geloofsvorming kleingroepe terwyl die ouers saam koffie en tee drink na die Erediens. Ouers is enige tyd welkom om in te loer by ons kleingroepe of deel te word van die span om te help bedien. Ons belydenisreis is ‘n twee jaar reis, dus word jy deel van die reis wanneer jy Gr10 is.

Hoërskool Kerkkampe:

Ons kamp. By die Kerk. Gewoonlik op die laaste Vrydag van die kwartaal bied het ons ’n aand van pret, aanbidding (worship) en diep geloofsgesprekke. Dit is keer op keer ’n hoogtepunt in die kwartaal!

Suidkus Familie Kamp (TO Strand):

Almal wat deel is van die Suidkus familie gaan kamp saam. Hoewel dit ’n kamp vir almal is, het gesinne, kinders en tieners het ’n spesiale plekkie op hierdie kamp en bied dit geleentheid om saam ons geloof te verdiep deur verskeie aktiwiteite wat nie net pret is nie, maar ons uitdaag om dieper in ons verhouding met God te groei.

 

Jonk Kamp:

Jonk KZN is die NG Kerk in KZN vir Jeug. Daar is elke jaar ’n kamp waar kerke regoor KZN bymekaarkom vir ’n naweek van geloofsgroei en pret. Dit is ’n ongelooflike kamp waar jong mense nuwe vriende maak en geleentheid kry om dieper in hulle geloof te delf.

 

Belydenis Klas:

Ons belydenisreis strek oor twee jaar. Tradisioneel sluit tieners in Gr 10 aan en lê belydenis in Oktober die volgende jaar af, maar jy is ook welkom om in ’n ander fase van jou lewe by ons aan te sluit as jy belydenis wil aflê. Ons kies vir ’n twee jaar reis omdat ’n jaar eenvoudig te kort is om die jongmense se vrae te hanteer. Die Belydenisklas is ook nie bedoel om al die vrae te beantwoord of om die einde van hulle geloofsreis te wees nie. Die Belydenisaflegging is ’n roetemerker op jou geloofsreis wat jou toerus om dieper in jou geloof te groei in jou reis vorentoe.

Daar is ook elke jaar ’n belydeniskamp wat ’n hoogtepunt in hierdie reis is. Dit is ’n kamp waar ons ervarings deel wat ’n leeftyd saam met die kampeerders sal bly

Klik Hier vir meer inligting

Gesinsaande:

Ds. Liezel de Jager hou een keer per maand ’n gesinsaand met verskillende temas. Die gesinsaande fokus daarop om gesonde huisgesinne te kweek deur ervarings te skep wat gesinne saam kan doen. Die gesinsaande fokus veral op ouers met kinders jonger as 13.

Jeug geleenthede:

Ons hou verskillende geleenthede vir die jeug soos wat die geleentheid opduik. Hou die webblad en Facebook-blad dop om op hoogte te bly van hierdie sporadiese geleenthede.

Jong Volwassenes:

Ons het ’n selgroep vir Jong Volwassenes wat deur Ds. Marius Schoombie gelei word. Ons gesels oor relevante kwessies vir die jong volwassenes en skep ’n ruimte om eerlik te praat oor geloof en ook om saam te kuier en verhoudings te bou. Daar is ook verskeie geleenthede vir Jong volwassenes gedurende die jaar. Hou ons webtuiste en sosiale media dop.

Vir meer inligting of om betrokke te raak

KONTAK ONS

10 + 13 =